Mark van die DDR

1-Mark-muntstuk
1-Mark-muntstuk (agtersy)

Die Mark van die DDR (Duits: Mark der DDR, afkorting: M) was die geldeenheid van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR). In die algemene taalgebruik van die DDR is dit gewoonlik net "Mark" genoem, terwyl mense in die Wes-Duitse Bondsrepubliek Duitsland meesal van "Ostmark" gepraat het wanneer hulle na die DDR-geldeenheid verwys het. Die ISO-geldeenheidkode vir die Mark der DDR was DDM.

Tot 1964 staan die Mark der DDR as Deutsche Mark bekend, daarna is die naam gewysig na Mark der DDR. Die DDR-Mark is opgedeel in 100 Pfennig. Banknote is uitgereik ter waarde van 5, 10, 20, 50 en 100 Mark, met muntstukke van 1, 5, 10, 20 en 50 Pfennig en 1, 2, 5, 10 en 20 mark. Die 10- en 20-Mark-muntstukke is in baie klein oplae gemunt. Banknote ter waarde van 200 en 500 Mark is later gedruk maar nie uitgereik nie, aangesien die regering gevrees het dat dit as 'n bewys van inflasionêre tendense in die ekonomie van die DDR beskou sou word.

Die regering van die DDR het steeds daarvan uitgegaan dat daar 'n pariteit tussen die Mark van die DDR en die Wes-Duitse Duitse Mark sou bestaan, tog word een Duitse Mark op die swartmark teen 5 tot 10 Mark van die DDR geruil. Die in- en uitvoer van die Mark van die DDR was onwettig in die Duitse Demokratiese Republiek.

Met die totstandkoming van die monetêre unie met die Bondsrepubliek Duitsland word die Mark van die DDR op 1 Julie 1990 deur die Deutsche Mark vervang. Salarisse, pryse en spaargeld is teen 'n wisselkoers van 1:1 geruil, groot bedrae geld teen 'n koers van 1:2. Hierdie wisselkoerse is deur die Wes-Duitse regering as 'n soort subsidie vir die Oos-Duitse ekonomie vasgestel en bly steeds omstrede onder ekonome.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne